DIE GOEIE HERDER | |
  |
![]() Dawie word wakker en lê en luister hoe die voëltjies in die boom voor sy kamer-venster fluit en raas. By die hoenderkampie gee 'n haan sy eerste lang uitgerekte kraai. In die verte hoor Dawie ook die tjirr-tjirr van die tarentale. Hy klim vinnig onder die ligblou lakens uit en skuif die gordyne oop. Skielik word hy haastig, want hy sien Lang-Piet stap reeds in die rigting van die skaapkraal. Sy pa het belowe dat hy vandag saam met Lang-Piet kan gaan om die skape op te pas, want dit is Saterdag en hy het sy huiswerk al die vorige aand klaargemaak. Hy trek 'n ou bruin langbroek en 'n hemp aan en knoop die veters van sy velskoene vas. Dan gaan was hy gou-gou sy gesig en hande en borsel sy sterk wit tande. Hy kam sy ligte krulhare haastig en sit 'n veldhoed op sy kop. Dawie is te opgewonde om te eet, en sit sommer 'n paar stukkies beskuit en 'n fles koffie in sy rugsak. Buite wag Lang-Piet. Hy glimlag breed. "Môre Dawie!" groet hy vriendelik. "Ons moet weg wees. As die son oor die bergrantjie stoot, moet ons al 'n hele entjie ver wees." "Môre, Lang-Piet," sê Dawie. "Nou maar kom. Ek is self haastig om weg te kom." Dit is vir Dawie heerlik om in die veld te wees. Dis vir hom baie mooi as die lammertjies met hul spierwit wollyfies huppel en mekaar jaag. En dis ook vir hom mooi om te sien hoe getrou Lang-Piet vir die skape sorg. Hy het hom nog nooit 'n lat sien gebruik of 'n klip sien optel wanneer een van die skape wegbreek nie. Dit lyk asof die skape en Lang-Piet mekaar goed verstaan. "Hoekom is jy so lief vir skape, Lang-Piet?" vra Dawie later toe hulle onder 'n koelteboom sit en rus. Lang-Piet dink 'n bietjie en doop 'n stukkie beskuit in sy koffie. "Ai, Dawie," sê Lang-Piet, "hierdie liefde vir die skape het ek al lankal. Maar dit het nie sommer vanself gekom nie." Dawie is nou baie nuuskierig. "Vertel asseblief, Lang-Piet," soebat hy. Lang-Piet kyk ingedagte na die helder lug en die spierwit wolkies. Daar is 'n glimlag op sy verrimpelde gesig. "Ken jy die storie van die Goeie Herder in ons Bybel?" vra hy. Dawie knik sy kop. "Ja, ek het baie van die herders gelees. Daar waar hulle die ster gesien het wat vir hulle die pad na Betlehem gewys het." Lang-Piet strek hom uit op die grond en vou sy lang arms agter sy kop. "Ek praat van 'n ander Herder," sê hy. "Die Goeie Herder wat al die ander skape los en die verlore een gaan soek." Dawie se oë is groot en rond. Hy dink nou baie hard. "Jaa..." sê hy. "Ek dink... ek dink ek kan so iets onthou. Daar is 'n prent in my kamer waar 'n skaapherder met wit klere 'n skapie in sy arms vashou. Dis seker daardie een." Lang-Piet lyk ingedagte. "Dit mag wees... dit mag wees," sê hy. "Ek het lank, baie lank gelede ook só 'n prent gesien. Ek was so 'n klein mannetjie van tien jaar," beduie Lang-Piet met sy hande "toe ek van die huis af weggeloop het. Met niks en niemand was ek tevrede nie. Ek wou die wye wêreld in. Maar gouer as wat ek gedink het, het alles nie meer so maklik gelyk nie. "My maag het begin skreeu van die honger. My skoensole was deurgeloop, en ek het die skoene sommer langs die pad weggegooi. Maar teruggaan wou ek ook nie - daarvoor was ek te trots. Te hardekop. Dinge het begin verkeerd loop. Ek het met verkeerde maats deurmekaar geraak. Ek het leer rook, later ook gedrink en gedobbel..." Lang-Piet bly stil en Dawie kyk hom ongelowig aan. As Pa dit geweet het, het hy sekerlik vir Lang-Piet weggejaag, dink hy. Lang-Piet vertel verder. "Ek het toe eendag by 'n plaas, 'n baie groot plaas verbygeloop. Daar was baie duur beeste, baie perde, volstruise, en daar was skape. Baie skape, honderde van hulle. Toe was my maag al seer van die honger - ek het vir dae lank nog niks geëet nie. "Terwyl ek so na alles staan en kyk, het my bors skielik verskriklik begin pyn. Ek het begin hoes - ek kon glad nie ophou nie. En dit het al erger geword. Daar langs die pad het ek sommer inmekaargesak en bly lê." Maar ondanks die hartseerstorie is daar 'n glimlag in Lang-Piet se oë. "Daar is baie om te vertel, maar die son klim al hoër en die skape moet nou-nou verder," sê Lang-Piet. "Maar daar het my lewe verander, soos die nag dag word. Mense het my daar gekry, my opgetel en ek het begin skape oppas by hulle. Hulle was goeie mense, hulle het nie vrae gevra nie. Eendag het die baas van die plaas ernstig met my gepraat. Hy het my vertel van die Goeie Herder wat al die ander skape los om die verlore enetjie te gaan soek. Ek het dadelik geweet: ek was daardie verlore skaap. En die Goeie Herder was ons Here wat my na daardie plaas gestuur het. Daarna het ek my eie Bybel gekry en 'n mooi boekie met die prent waarvan jy netnou gepraat het, buite op..." Lang-Piet staan op en begin roep na die skape. Hulle staan ook nou stadig een vir een op en begin al peuselend vorentoe beweeg. Dawie loop ingedagte saam. Dit was 'n baie mooi storie wat Lang-Piet vertel het - hy sal dit seker nooit vergeet nie. Hy dink nou aan baie dinge. Hy onthou daardie aand wat hy in die bosse verdwaal het, maar wel later sy pad teruggekry het... hy het nooit geweet dat hy ook maar 'n skapie was nie. En dat daar heeltyd 'n Goeie Herder was wat oor hom wag gehou het nie. Sy hart is sommer nou gelukkig. Hy besluit daar en dan om 'n gehoorsame skapie te wees en nooit weer weg te dwaal nie. Hy onthou wat sy pa een aand met huisgodsdiens gelees het: "Die Goeie Herder lê sy lewe af vir die skape." Toe het hy nie so mooi geweet wat dit beteken nie, maar nou weet hy. Dit is seker toe Jesus gekruisig is, dink hy. So in die stap maak hy vir 'n oomblik sy oë toe: "Dankie, Jesus, dat U ook vir my gekruisig is. Ek wil U hart nooit weer seermaak nie. Ek wil nie meer leuens vertel nie, nie eens 'n ou wit leuentjie nie. En ek wil ook nie meer ongehoorsaam en parmantig wees nie. Ek wil vir U 'n soet skapie wees, want U is my Goeie Herder. Amen." Lang-Piet kyk om en waai met sy arms. "Kom, jy bly agter! Kyk waar trek die skape al," roep hy. Dawie huppel oor die graspolle. Hy voel so gelukkig soos nog nooit vantevore nie. Daardie selfde aand het hy sy Bybel geneem en die hoofstuk oor die Goeie Herder gelees. In sy hart het hy 'n besluit geneem. Hy sal vir ander mense ook vertel van die Goeie Herder. Wie weet... miskien is daar nog baie verlore skape... grotes, kleintjies, baie wat weggedwaal het en nog nie gevind is nie. Later het hy rustig, met 'n baie gelukkige hart, aan die slaap geraak... - Elisabet Opperman |